top of page

die baards

10 Maande terug het ons as 'n jong verloofde paartjie die onbekende gewaag en China toe gekom om vir ons ‘n beter toekoms te bou. Min wetende dat ons as ‘n jong getroude paartjie in die middel van ‘n wêreldskrisis sou opeindig. Ons planne het so mooi uitgewerk in ons koppe: Ons gaan die wêreld sien en bietjie geld spaar. Min het ons geweet wat op ons wag. Tydens die Chinese nuwejaarsvakansie op een van ons reisavonture moes ons in ons spore stop en die storie goed deurdink. Ons tweede dag van vakansie en als om ons is toe, winkels, restaurante, malls en selfs al die toeriste aantrekkings wat jaarliks gedurende hierdie tyd floreer.

 

Wat gebeur nou vorentoe? ‘n Vraag met die volgende wat antwoord:  Knip jou vakansie kort, dra ‘n masker, bly so veel moontlik binnenshuis, was jou hande gereeld en vermy mense.

 

Om as n nuutgetroude paartjie vir bietjie langer as 'n maand in 'n klein woonstel vasgevang te wees is ideaal maar, te veel van n goeie ding is nie altyd gesond nie en dit het ons vinnig besef. Ons het mekaar so bietjie verkeerd begin opvryf per geleentheid, maar ook mekaar leer ken op n vlak wat min nuutgetroude paartjies mee kan kompeteer. Ons moes vinnig iets kry wat ons altwee interesseer en wat ons albei geniet.

​

Bier, wyn en 'n bietjie absurde idees later het ‘Kook in Kwarentyn’ oor ons pad geval. Le Roux was nog altyd lief vir kos maak, en hy is goed daarin... Suané aan die ander kant is lief daarvoor, nie altyd so goed nie maar probeer haar beste.

Suané se werk is meestal om die idee te kry van wat om te maak, gewoonlik 'n pinterest of facebook prentjie , en dan moet Le Roux die resep aanpas om die bestandele te akkommodeer.

​

Die dorp waar ons bly is Langfang, dit is so 60km buite Beijing. Ons beskryf dit op die oomblik as ‘n spookdorp. Al die winkels, restaurante en besighede is toe, selfs taxis ry nie meer nie. Daar is een supermark in elke area oop waar mens die nodige kos en kruideniersware kan kry. Ons probeer om so min as moontlik die huis te verlaat, maar as ons moet, is daar vir ons gesê om maskers te dra.

​

By die supermark wag almal in rye om in te gaan, jou koors word gemeet, jou hande word gespuit met saniteermiddel en jy moet inteken met jou kontak besonderhede voor jy kan ingaan (sodat hulle weet wie om te kontak as iemand wat die winkel daardie dag besoek het dalk siek is). Die personeel het almal sulke 'reenjassies', maskers, handskoene en iets soortgelyk aan swembrille aan om hulle te beskerm teen die virus.

 

Met al die snaakse produkte en die taalgrens is inkopies op ‘n gewone dag uitdagend, maar met al die bykomende faktore en die Chinese inwoners wat ook versigtig beweeg is dit behoorlik 'n hondeskou en vat dit maar 'n goeie tydjie om te kry wat jy wil hê. Ons is baie bevooreg om so naby aan die hoofstad te bly in terme van kosskaarsheid en varsprodukte, as jy kyk na ander dorpe wat vêr van die hoofstad is. Hulle is baie meer geisoleer en afgesny van besoekers en produsente. Daar is vriende en gevale wat baie erger af is as ons.

​

Elke oggend word n sekere hoeveelheid varsprodukte uitgepak vir die dag, as jy te laat kom mag jy dalk nie kry waarvoor jy gesoek het nie, maar dan werk jy om dit. Hulle sê mos: 'n Boer maak 'n plan. Ons het genoeg kos, dit is nie 'n probleem nie, maar die proses om kos te kry laat mens besef hoe ernstig hierdie situasie buite ons woonstel regtig is.

​

Sommige dae geniet ons dit om te ontspan en ander dae voel dit of ons vasgevang is met geen plan, taak of dryf vir die dag nie. In sulke tye mis ons vriende en familie, en om Suid-Afrikaanse kos te maak, het tot nou toe nog baie goed gewerk. ‘Comfort food’ soos 'n mens dit sal noem. Soms probeer ons iets nuut en ander kere probeer ons familie resepte, maar op ons eie manier. Ons maak die resepte ons eie vars handelsmerk. Met al die tyd op ons hande het ons die resepte vasgevang in ‘n “Kook in Kwarentyn” boekie.

​

Die resepte is nog nie so baie nie maar dit groei daagliks en dit strek van maklike disse vir nuutgetroudes tot snaakse bestanddele in tradisionele resepte weens ons unieke omstandighede.

bottom of page